Vrydag 13 Desember 2013 CRADOCK. - Jonathan Stefanus (Jak) Troskie (71) is Donderdagaand koelbloedig op sy plaas, Bassonsberg naby Kookhuis, doodgeskiet terwyl sy vrou, Idalette (72) aangerand is.
Vier kleinkinders (tussen die ouderdomme van 6 en 14 jaar) wat op ’n plaasvakansie-kuier by hul oupa en ouma was, is deur die aanvallers in ’n studeerkamer toegesluit. Die kinders is getraumatiseerd, maar hulle is blykbaar nie in die aanval beseer nie.
Ds. Chris du Raan van die NG gemeente op Somerset-Oos, het die oorledene as ’n diep gelowige en waardige man - ’n voorbeeld vir die gemeenskap - beskryf. “Hy het net goed gedoen. Hy was suksesvol, maar nederig, hy was soos die Mandela van hierdie gebied.”
“Ek is verpletterd oor die verlies en die feit dat mense so lafhartig kan wees om ’n bejaarde man van agter te skiet,” het Du Raan gisteroggend gesê.
Du Raan het die Troskie-kleinkinders as “ongelooflik” beskryf en gesê alhoewel hulle – en veral die twee kleintjies – baie getraumatiseerd was, het veral Riaan Nel (14), kop gehou en hulp ontbied. Riaan is die seun van Liesel Nel, die egpaar se oudste dogter wat in Pretoria bly.
Kapt. Stefanie Smith, polisiewoordvoerder, het gesê die kragopwekker op die plaas het op die betrokke doodsnag verskeie kere gaan staan. Troskie het elke keer uitgegaan om dit weer aan die gang te kry.
Die vierde keer is hy by die enjinkamer aangeval en doodgeskiet. Die vier aanvallers het daarna die huis binnegegaan en, na hulle die oorledene se vrou aangerand het, met gewere, geld en selfone in die gesin se Camray-motor van die plaas af weggejaag.
Idalette Troskie is aanvanklik na die Andries Vosloo-hospitaal in Somerset-Oos geneem, maar is later na Port Elizabeth geneem. Sy ontvang behandeling vir onder meer ’n gebreekte kakebeen en neus.
Volgens Smith was die polisie se honde-eenheid, sowel as vingerafdrukspesialiste van Cradock gou op die toneel. ’n Forensiese span van Port Elizabeth het Donderdagoggend die toneel gefynkam.
Wayman Kritzinger, vise-president van Agri Oos-Kaap wat ongeveer 50km van die Troskies boer, het gesê die oorledene was een van die distrik se groot boere.
Natie Troskie, buurman en neef van die oorledene, het gesê die gemeenskap is woedend en verslae. “Die sinnelose dood van my oom sal ’n groot leemte in die gemeenskap laat. Hy was fenominaal as man, mens, vriend en boer,” het hy gesê.
Ander familielede was gister nog te getraumatiseerd om oor die voorval te praat.
Die polisie het die oorledene se motor en gewere wat tydens die aanval gebuit is, intussen net buite Kookhuis gevind.
Troskie word oorleef deur sy vrou, twee seuns, Wynand van Pretoria en Andries wat saam met sy pa geboer het, twee dogters, Liezel en Hanlie, en die kleinkinders.
↧